Die NG Kerk in ‘n perfekte storm

Ds Albert Cruywagen skryf in die jongste nuusbrief van NIMSA, die netwerk vir brugbediening:

Daar is minstens vyf elemente wat “saamspan” wat die NG Kerk in ‘n perfekte storm laat beland het:

1.  Veranderende sosio-ekonomiese omstandighede wat ‘n sterkerwordende impak het op gemeentes se lewensvatbaarheid. Dit sluit in jonger lidmate wat die kerk verlaat, emigrasie van jonger lidmate, afsterwe van ouer lidmate, al hoe minder persoonlike en dus gemeentelike inkomste.

2.  Groterwordende verskil tov Skrifinterpretasie en teologiese “stromings”.

3.  Lidmate se gevoel van “verlies” na 1994 wat op verskillende maniere sigbaar is.

4.  Proponente wat nie beroepe kry nie en naby-aftree leraars wat vasbyt; toekomskyk dat teologiese studente ‘n beduidende afname toon en ‘n beduidende aantal ouer leraars wat in die volgende vyf jaar aftree.

5.  Voorgestelde vier baan teologiese opleiding (Oktober, Algemene Sinode).

    Hierdie elemente kan met positiewe nagevolge besprekingspunte op die Brugbediening se agenda word. Die oorspronklike (enkelvoudige) rede vir brugbediening in ‘n gemeente kan dalk verbreed word om aspekte van bg. elemente in te sluit.

     Dit word al meer nodig dat die situasie van ‘n gemeente waar brugbediening moet gebeur,  wydlopend geanaliseer en gelees moet word met bg. elemente in gedagte. Die nodigheid van ‘n adviespaneel uit brugpastors se geledere tree dan sterker na vore. So ‘n gemeente se omstandigheid moet waarskynlik al minder geïsoleerd bekyk word. Gemeentes in die ring kan ook onder die vergrootglas kom vir ‘n meer inklusiewe analise. Dit kan selfs samesmelting, kombinering en eenwording van ringsgemeentes insluit.

    Daar is nog ‘n visioen wat oopvou, nl. skakeling met en uitreik na ander kerkgenootskappe in die onmiddellike omgewing. Die Hervormde Kerk het gemeentes wat gekontak kan word met wie samewerking gemaklik kan gebeur. Die toekomsklokkies wat hier lui is eenwording van die NG Kerk en die Hervormde kerk! Iets opwindend wat ook oorweeg kan word, is vennootskappe met Engelstalige kerke in die omgewing. Dit bring die netelige saak van slegs Afrikaans as kanseltaal binne sigafstand. Die olifant in die vertrek is skakeling met swart kerke. Die brandende/smeulende saak van kerkvereniging kan dalk kom pluk aan die soom van ons klere.

Die vereistes om NG Kerk te bly, nl. wit lidmate en Afrikaans as gebruikstaal, sal êrens in die toekoms aandag moet geniet. Die volgende (minstens) drie vrae duik op:

1 – Moet gemeentes eers wegkwyn en mettertyd sterf, en eers dan kan iets plaasvervangend gebore word?

2 – Moet Afrikaans as voertaal plek maak vir Engels om swart lidmate te akkommodeer,  en dan sterf die gemeente in  ieder geval! Dan moet daar iets plaasvervangend gebore word.

3 – Is daar een of ander goue middeweg? Hierdie goue middeweg wat ontdek (gebou?) moet word, kan dalk die reuse bydrae wees wat Brugbediening vir die NG Kerk kan lewer!

    Vervolgens kan voor-die-hand-liggende vennootskappe met nog ander kerkgenootskappe oorweeg word, afhangende van elke plaaslike omstandigheid. Daarby kom instansies soos MES, skole, ens. onder die loep. En seker die mees opwindende, maar mees uitdagende, is vennootskappe met nie-voor-die-hand-liggende instansies. Hier tree kreatiwiteit in. Dis egter seker ook toekomsmusiek! ‘n Variasie van vennootskappe is “Fresh Expressions”.

    Wat van ‘n werkswinkel met Mark 4 : 35 – 41 as opening en die sake soos in hierdie skrywe genoem as agenda?

Lees die Kerkbode op jou selfoon

Kerkbode se toepassing!
Kerkbode is deesdae ewe tuis op die virtuele rakke van die digitale wêreld se app-winkels as in die voorportale van byna 400 gemeentes wat getrou inteken op die koerant se gedrukte weergawe. “Kerkbode het die voordeel dat, hoewel ons ‘n klein redaksionele span is, ons wel die vaardighede en hulpbronne in die groter Bybel-Media tot ons beskikking het, om ‘n wêreldklas-app soos dié aan ons lesers te kan bied,” sê Le Roux Schoeman, die redakteur van Kerkbode. Die nuwe toepassing is sedert Mei 2019 vir Android- en Apple-gebruikers beskikbaar. Besoek www.kerkbode.co.za om dit af te laai en volg die skakel na die app-winkel in die regterkolom van die tuisblad. 

Die vele stories wat ons oor die NG Kerk móét vertel

In ‘n TED-praatjie (wat almal moet kyk) verduidelik Chimamanda Adichie hoe gevaarlik dit is om net één storie oor enigiets te vertel. Daar is altyd méér as een storie te vertel. Een storie kan nie die volle omvang van die waarheid vasvang nie.

    Dit is ook waar van die NG Kerk. Is die storie wat op koerantvoorblaaie vertel word die enigste waar storie? Die enigste storie wat ons definieer.

    Algemene Sekretaris Gustav Claassen wys tereg daarop dat daar méér stories oor die NG Kerk is wat vertel móét word.

    Hy skryf in ‘n Kerkboderubriek: “Die NG Kerk se eerlike worsteling om haarself, ter wille van die koninkryk, beter te posisioneer het nie sonder pyn en worsteling geskied nie. Pogings om die Belydenis van Belhar te aanvaar het tot erge verdeeldheid gelei. So is dit ook tans die geval met die kerk se pogings om haar gay-lidmate ten volle te akkommodeer. Dit het daartoe gelei dat die narratief rondom die NG Kerk eensydig gedefinieer word in terme van haar dikwels onbeholpe pogings om die regte besluite te neem. ‘n Onsimpatieke pers het tot hier­die narratief bygedra deur dikwels lesers met ‘n ongebalanseerde negatiewe storielyn te voer.” Lees verder watter stories Gustav dink óók vertel moet word.

How South Africa can do better at reversing apartheid’s legacies

Hierdie artikel help mens dieper dink oor byna elke politikus se gunsteling tema. Dis makliker gesê as gedaan. Die artikel het by The Conversation verskyn:

The lofty and noble ambitions for a post-apartheid future raise two important questions.

     The first is: do policymakers really understand the complex system that gave rise to apartheid’s legacies? Not the monolithic idea of apartheid, but the inner workings. The second question is: do South Africans and their leaders know what the alternative outcome is that would replace the status quo? Can the country envisage its own good society?

     If the answer to these questions is no, the country won’t progress.

    These questions raise a third question that is critical to the success of eradicating apartheid’s legacies. It is whether South Africans understand the positive systemic dynamics they would have to create, and how to go about creating them, to deliver on the promise of democracy. Read further.

Dink asseblief weer, Moreletapark

Oor die afgelope week het die kerk gegons oor berigte dat Moreletapark die NG Kerk wil verlaat. Dit is gegrond op ‘n skriftelike mededeling van die gemeente aan die Oostelike Sinode. Op Dinsdag, 7 Mei, het kerkleiers met gemeenteleiers vergader. ‘n Meer versoenende verklaring is na afloop van die gesprek uitgereik.

    Die oorspronklike besluit om oënskynlik bande met die NG Kerk te verbreek, is geneem sonder die medewete van ds Dirkie van der Spuy, afgetrede leraar en deesdae ouderling van die gemeente. Hy het eers saam met die res van die kerk daarvan gehoor. Nietemin is die aanspraak dat die besluit eenparig deur lidmate en kerkraadslede geneem is.

    Van der Spuy is bekend vir sy sterk aksent op kerkeenheid.

    Intussen lyk dit al hoe meer dat die gemeente nie die kerkverband gaan verlaat nie.

    Die juridiese beginsel dat die lidmate wat die gemeente nie wil verlaat nie al die eiendomme behou is sedertdien weer bevestig.

    Die helderste woord oor die saak is vandeesweek deur ds Jannie Pelser van Krugersdorp gespreek in ‘n publieke skrywe aan Moreletapark in Beeld van 8 Mei 2019. Hy vra Moreletapark moet weer dink.  Klik hier om dit te lees.